|
Huis
by Hoogwater
Estelle Spaarwater, Sarie Marais, 11 Junie 1980
Fotograaf: Alain Proust
|
Hef aan en bou 'n danklied
met God se spoel,'n danklied -
vlak by die gety
dig by branding en wier
teenaan sy lyf waar dit kwarts is.
Bou dit sterk en bly
vir sening en spier
en met eenvoud
soos die woord wat kom spreek is.
Bou dit met liefde
vir die gegewe
wat vraagloos gevat is.
Laat dit groei uit die aarde
uit 'n embrio van verstaan
van grond en klip en lewe.
Bou dit onbeskaamd met genot
maak elke brok 'n ervaring
elke klip wat daar ingaan deel van die paring
tussen werklikheid en waan.
Ruben Stander
Hierdie reëls is een Saterdagoggend tussen ses en sewe
uur - net voor invaltyd - geskryf ná 'n rustelose nag,
waarin die bouer geworstel het met die vraag waarom by homself
so 'n onhebbelike taak opgelê het.
|
Vier-en-twintig jaar glelede wou hy al hierdie "danklied"
bou, maar gelukkig kon by toe nie die pad na die klipkoppie tussen
die twee baaitjies bekostig nie. "My idees van toe sou beslis
die klipkop geskend bet," sê Ruben Stander, 'n Kaapse
ingenieur. Wat vandag op die rotse staan, is egter deel van en met
die omgewing.
Ses jaar gelede was die einste pad relatief baie goedkoper R 1
000 teenoor 500 Pond van destyds - en kon die proses van skulptuur
en wording van 'n skepping wat saamsmelt met rots en see begin.
Jare se naweke van elke rots, klip en skeur leer ken en vriende
maak, het gelei tot hierdie harthuis van Stander wat 'n eenmalige
samesmelting is van aardsheid, tegnologie, sensitiwiteit en 'n sterk
skulpturele kombinering van natuurklip en beton.
Alle aanvanklike opmetings is gedoen met 'n teodoliet en die planne
is vryhand geteken en so ingelewer by die Caledonse Afdelingsraad
- tot groot verbasing van die amptenare. Die planne is egter goedgekeur
en die Hoogwater huis by Hangklip kon begin.
Uit respek vir die natuurskoon en stilte van die omgewing is geen
lawaaierige moderne masjiene of dinamiet gebruik nie. Alle klippe
is met 'n swaar voertuig binne 'n omtrek van drie kilometer aangery
en verder met die hulp van die eenvoudige hefboom en spierkrag gehanteer.
Fondamente is daar nie - die huis is direk op die rotse gebou soos
hulle te voorskyn gekom het onder die sand. Diep geule is oorbrug
met klipboë wat skop tussen rotswand en rotswand. Die grootte
en vorms van die rotse wat daar was en die klippe wat aangery is,
het in 'n groot mate die huis se uiteindelike vorm en lyne bepaal
- wat heelwat anders is as die oorspronklike vryhand planne wat
ingedien is vir goedkeuring.
Die huis het sewe vlakke. Die laagste is ongeveer 'n meter bokant
die hoogwatermerk en die hoogste is die uitkyktoring wat 'n uitsig
hied oor Valsbaai tot by Kaappunt. Hierdie toring het egter ook
'n praktiese doel - dit huisves 'n wateropgaartenk wat
2 000 liter hou. Die tenk is opgedeel in kompartemente - die onderste
drie kwart vir koue water en die boonste kwart vir warm water. Laasgenoemde
word gevoed deur 'n sonverwarmer wat so geïnstalleer is dat
dit deel vorm van die skulpturele lyne van die huis. 'n Spiraal
van koperpype in die kaggel voed ook hierdie warmwatertenk.
'n Windlaaier om elektrisiteit op te wek, is ook op die dak te
vind. Praktiese tegnologie span hier natuurkragte in om die nodige
twintigste eeuse gerief en gemak to verskaf.
Die hoofingang van die huis is op die derde vlak. Hier is 'n skuiling
van Strandlopers pragtig behou - die buitenste muur is spesiaal
met 'n boog gebou om die Boesman se blyplek nie te skend nie. Klippe
wat saamgesmelt het deur die aksie van vuur met skulp en diervet,
is hier gevind en net so behou.
|
Die Boesmangees woon nog onder die huis. "As ek naweke alleen
hier is, kommunikeer ons goed. Hy is glad nie opdringerig nie en
treiter niemand nie. Hy is baie in sy skik dat sy skuiling nie versteur
is nie - wens net dat hy sulke goeie huisvesting in daardie tyd
en dae gehad het!" sê Ruben.
'n Houttrap loop met 'n kurwe langs die natuurlike rotswand op na
die volgende vlak wat 'n gastebadkamer en toilet huisves en wat
ook toegang gee tot die eerste sondek.
Die hele woonvlak wat sit , eet- en kook areas insluit, is ongeveer
'n halwe meter hoër op die volgende vlak sodat die uitsig nie
bederf kan word deur die muur om die sondek nie. 'n Spesiale bankie
is ingebou tussen die rotse in die eetplek met die uitsig deur 'n
weste venster om die sonsondergang te geniet.
Hierdie woonvlak is volgens die oopplankonsep met die kaggel as
sentrale as. Die bekisting van die betonplafon is gedoen met 15
cm breë vloerplank (uit 'n gesloopte huis), so gerangskik dat
die lyne na die kaggel lei.
"Ek bet 'n paar vreemde elemente (nie uit die spesifieke omgewing
nie) ingebring om spesiale redes. Alle houtwerk behalwe die klein
vensters is van Oregon dennehout (uit 'n 100 jarige afgebreekte
gebou in die Kaapse hawe) omdat ek so baie hou van die los grein
van die hout wat my herinner aan 'n flambojante vrou."
Die klein vensters is van Birmaanse kiaat omdat dit die aanslag
van sout lug en tyd goed kan weerstaan.
Die binnevloere met hul ryk ougoud kleur is te danke aan sand wat
van Groot Brak aangery is. "Daar bet ek grootgeword en daardie
kus het vir my die mooiste kleur sand." Hierdie vloere is met
wetenskaplike presiesheid volgens Ruben se eie resep beplan.
Omdat beton so hard en onvriendelik is om op te loop, is daar 'n
laag sement gemeng met fyn rubber afvalstukkies, sand en 'n tipe
hars as finale laag gebruik. Die goue Groot Brak sand is toe gemeng
met 'n kleurlose hars en is in 'n dun laag aangepleister oor die
elastiese laag. Die vloere bet dus die drakrag van beton met die
nodige elastisiteit verskaf deur die rubberlaag.
Groot vensters aan alle kante en op alle vlakke bied 'n konstante
uitsig op die wisselende buie van die natuur. Die groot ruite wat
uit die Kaap vervoer is (nie een het tydens die reis gebreek nie!),
is ingelê in die beton om toe te laat vir uitsetting en inkrimping.
Pleks van konvensionele stopverf bet Ruben 'n mengsel gemaak van
fyn sand, 'n klein bietjie sement en 'n hars. Hierdie mengsel is
baie sterk, en bied die voordeel dat dit skoon afspring as dit met
'n beitel uitgekap word indien 'n ruit sou breek.
Die kleurskema van die binnekant is die van klip en sand. Natuurlike
rotse word afgewissel deur gemesselde klipmure waarvan elke klip
uitgesoek is vir sy vorm en kleure veroorsaak deur die korsmos wat
daarop groei. Groot sorg is geneem om to voorkom dat sement op die
pragtige klippe gemors word.
Dit het ses jaar se naweke en 'n groot spanpoging van Ruben en
sy vrou Nelie gekos om hierdie "paring tussen werklikheid en
waan" tot stand te bring.
Elke Vrydagaand is daar uit die Kaap gery om oompie Dy, Dirkie,
Aprillie, Jan Dysel en Sammy Boy op Stellenbosch op to laai. Vandaar
is pad gevat na Hangklip waar die naweek se swoeg en sweet ligter
gemaak is deur Nelie wat die honger mae volgehou het sodat die spiere
die nodige kan verrig vir 12 uur per dag. Al hierdie manne is ongeskoolde
arbeiders, maar tussen hulle en die Stander familie het 'n gemeensaamheid
en diep band ontwikkel as gevolg van die gedeelde arbeid aan die
Huis by Hoogwater. Een naweek toe oompie Dy en kie nie kon kom nie,
het Ruben, Nelie en twee kinders 1½ ton beton in een middag
gemeng en aangedra. Met die verf van plafonne en mure het Nelie
ook hand bygesit.
Hier op die rotse by Hangklip het 'n moderne mens bewys dat hy
'n woning kan skep wat in volkome harmonie met sy omgewing is, maar
wat ook voldoen aan die eise van die tyd waarin ons leef.
|