HoogwaterHuis Hangklip Earlier
Home Media 1980, 1995 2005 Album 2005 2008 News
House at high tide
Huis by Hoogwater

Estelle Spaarwater, Sarie Marais, 11 Junie 1980
Fotograaf: Alain Proust

Hef aan en bou 'n danklied
met God se spoel,'n danklied -
vlak by die gety
dig by branding en wier
teenaan sy lyf waar dit kwarts is.
Bou dit sterk en bly
vir sening en spier
en met eenvoud
soos die woord wat kom spreek is.
Bou dit met liefde
vir die gegewe
wat vraagloos gevat is.
Laat dit groei uit die aarde
uit 'n embrio van verstaan
van grond en klip en lewe.
Bou dit onbeskaamd met genot
maak elke brok 'n ervaring
elke klip wat daar ingaan deel van die paring
tussen werklikheid en waan.

Ruben Stander
Hierdie reëls is een Saterdagoggend tussen ses en sewe uur - net voor invaltyd - geskryf ná 'n rustelose nag, waarin die bouer geworstel het met die vraag waarom by homself so 'n onhebbelike taak opgelê het.

Vier-en-twintig jaar glelede wou hy al hierdie "danklied" bou, maar gelukkig kon by toe nie die pad na die klipkoppie tussen die twee baaitjies bekostig nie. "My idees van toe sou beslis die klipkop geskend bet," sê Ruben Stander, 'n Kaapse ingenieur. Wat vandag op die rotse staan, is egter deel van en met die omgewing.

Ses jaar gelede was die einste pad relatief baie goedkoper R 1 000 teenoor 500 Pond van destyds - en kon die proses van skulptuur en wording van 'n skepping wat saamsmelt met rots en see begin.

Jare se naweke van elke rots, klip en skeur leer ken en vriende maak, het gelei tot hierdie harthuis van Stander wat 'n eenmalige samesmelting is van aardsheid, tegnologie, sensitiwiteit en 'n sterk skulpturele kombinering van natuurklip en beton.

Alle aanvanklike opmetings is gedoen met 'n teodoliet en die planne is vryhand geteken en so ingelewer by die Caledonse Afdelingsraad - tot groot verbasing van die amptenare. Die planne is egter goedgekeur en die Hoogwater huis by Hangklip kon begin.

Uit respek vir die natuurskoon en stilte van die omgewing is geen lawaaierige moderne masjiene of dinamiet gebruik nie. Alle klippe is met 'n swaar voertuig binne 'n omtrek van drie kilometer aangery en verder met die hulp van die eenvoudige hefboom en spierkrag gehanteer.

Fondamente is daar nie - die huis is direk op die rotse gebou soos hulle te voorskyn gekom het onder die sand. Diep geule is oorbrug met klipboë wat skop tussen rotswand en rotswand. Die grootte en vorms van die rotse wat daar was en die klippe wat aangery is, het in 'n groot mate die huis se uiteindelike vorm en lyne bepaal - wat heelwat anders is as die oorspronklike vryhand planne wat ingedien is vir goedkeuring.

Die huis het sewe vlakke. Die laagste is ongeveer 'n meter bokant die hoogwatermerk en die hoogste is die uitkyktoring wat 'n uitsig hied oor Valsbaai tot by Kaappunt. Hierdie toring het egter ook 'n praktiese doel - dit huisves 'n wateropgaartenk wat
2 000 liter hou. Die tenk is opgedeel in kompartemente - die onderste drie kwart vir koue water en die boonste kwart vir warm water. Laasgenoemde word gevoed deur 'n sonverwarmer wat so geïnstalleer is dat dit deel vorm van die skulpturele lyne van die huis. 'n Spiraal van koperpype in die kaggel voed ook hierdie warmwatertenk.

'n Windlaaier om elektrisiteit op te wek, is ook op die dak te vind. Praktiese tegnologie span hier natuurkragte in om die nodige twintigste eeuse gerief en gemak to verskaf.

Die hoofingang van die huis is op die derde vlak. Hier is 'n skuiling van Strandlopers pragtig behou - die buitenste muur is spesiaal met 'n boog gebou om die Boesman se blyplek nie te skend nie. Klippe wat saamgesmelt het deur die aksie van vuur met skulp en diervet, is hier gevind en net so behou.

Die Boesmangees woon nog onder die huis. "As ek naweke alleen hier is, kommunikeer ons goed. Hy is glad nie opdringerig nie en treiter niemand nie. Hy is baie in sy skik dat sy skuiling nie versteur is nie - wens net dat hy sulke goeie huisvesting in daardie tyd en dae gehad het!" sê Ruben.

'n Houttrap loop met 'n kurwe langs die natuurlike rotswand op na die volgende vlak wat 'n gastebadkamer en toilet huisves en wat ook toegang gee tot die eerste sondek.

Die hele woonvlak wat sit , eet- en kook areas insluit, is ongeveer 'n halwe meter hoër op die volgende vlak sodat die uitsig nie bederf kan word deur die muur om die sondek nie. 'n Spesiale bankie is ingebou tussen die rotse in die eetplek met die uitsig deur 'n weste venster om die sonsondergang te geniet.

Hierdie woonvlak is volgens die oopplankonsep met die kaggel as sentrale as. Die bekisting van die betonplafon is gedoen met 15 cm breë vloerplank (uit 'n gesloopte huis), so gerangskik dat die lyne na die kaggel lei.

"Ek bet 'n paar vreemde elemente (nie uit die spesifieke omgewing nie) ingebring om spesiale redes. Alle houtwerk behalwe die klein vensters is van Oregon dennehout (uit 'n 100 jarige afgebreekte gebou in die Kaapse hawe) omdat ek so baie hou van die los grein van die hout wat my herinner aan 'n flambojante vrou."

Die klein vensters is van Birmaanse kiaat omdat dit die aanslag van sout lug en tyd goed kan weerstaan.

Die binnevloere met hul ryk ougoud kleur is te danke aan sand wat van Groot Brak aangery is. "Daar bet ek grootgeword en daardie kus het vir my die mooiste kleur sand." Hierdie vloere is met wetenskaplike presiesheid volgens Ruben se eie resep beplan.

Omdat beton so hard en onvriendelik is om op te loop, is daar 'n laag sement gemeng met fyn rubber afvalstukkies, sand en 'n tipe hars as finale laag gebruik. Die goue Groot Brak sand is toe gemeng met 'n kleurlose hars en is in 'n dun laag aangepleister oor die elastiese laag. Die vloere bet dus die drakrag van beton met die nodige elastisiteit verskaf deur die rubberlaag.

Groot vensters aan alle kante en op alle vlakke bied 'n konstante uitsig op die wisselende buie van die natuur. Die groot ruite wat uit die Kaap vervoer is (nie een het tydens die reis gebreek nie!), is ingelê in die beton om toe te laat vir uitsetting en inkrimping. Pleks van konvensionele stopverf bet Ruben 'n mengsel gemaak van fyn sand, 'n klein bietjie sement en 'n hars. Hierdie mengsel is baie sterk, en bied die voordeel dat dit skoon afspring as dit met 'n beitel uitgekap word indien 'n ruit sou breek.

Die kleurskema van die binnekant is die van klip en sand. Natuurlike rotse word afgewissel deur gemesselde klipmure waarvan elke klip uitgesoek is vir sy vorm en kleure veroorsaak deur die korsmos wat daarop groei. Groot sorg is geneem om to voorkom dat sement op die pragtige klippe gemors word.

Dit het ses jaar se naweke en 'n groot spanpoging van Ruben en sy vrou Nelie gekos om hierdie "paring tussen werklikheid en waan" tot stand te bring.

Elke Vrydagaand is daar uit die Kaap gery om oompie Dy, Dirkie, Aprillie, Jan Dysel en Sammy Boy op Stellenbosch op to laai. Vandaar is pad gevat na Hangklip waar die naweek se swoeg en sweet ligter gemaak is deur Nelie wat die honger mae volgehou het sodat die spiere die nodige kan verrig vir 12 uur per dag. Al hierdie manne is ongeskoolde arbeiders, maar tussen hulle en die Stander familie het 'n gemeensaamheid en diep band ontwikkel as gevolg van die gedeelde arbeid aan die Huis by Hoogwater. Een naweek toe oompie Dy en kie nie kon kom nie, het Ruben, Nelie en twee kinders 1½ ton beton in een middag gemeng en aangedra. Met die verf van plafonne en mure het Nelie ook hand bygesit.

Hier op die rotse by Hangklip het 'n moderne mens bewys dat hy 'n woning kan skep wat in volkome harmonie met sy omgewing is, maar wat ook voldoen aan die eise van die tyd waarin ons leef.